Hulp vir Huweliksbevestigers
Inhoudsopgawe
- Dokumente en prosesse benodig vir die bevestiging van ‘n huwelik
- Aansoek om as huweliksbevestiger aangestel te word
- Huweliksregister
- Adresverandering van huweliksbevestigers
Dokumente en prosesse benodig vir die bevestiging van ‘n huwelik
Die wyse waarop die administrasie rondom die bevestiging van huwelike hanteer word, word deur die Dept van Binnelandse Sake gereël. Huweliksbevestigers moet bekend wees met die inhoud van die geldende omsendskrywe van die Dept van Binnelandse Sake. Die Handleiding vir Huweliksbevestigers wat deur die Dept van Binnelandse Sake verskaf word, is ook belangrik.
Daar is drie dokumente wat bevestigers saam met die ander dokument by die registrasie van die huwelik moet indien (let veral op par. (b) wat op bl 4 in bogenoemde omsendskrywe begin):
- Beëdigde verklarings – by polisie afgeneem – van elke party in die huweliksluiting om hul huwelikstatus te bevestig.
- Dokument van Binnelandse Sake wat die egliede se huwelikstatus op Binnelandse Sake se huweliksregister bevestig.
- Dokument van Binnelandse Sake van elke party wat bevestig dat hulle identiteitsnommer geldig is.
Aansoek om as Huweliksbevestiger aangestel te word
Geordende predikante en diensleraars kwalifiseer om as huweliksbevestigers aangestel te word. Die aanstelling is eenmalig en vir die duur van die predikant of diensleraar se bediening, ook tydens emeritaat.
Die spesifieke sinodale kantoor waaronder die leraar ressorteer hanteer die administrasie en kommunikasie rondom die aansoek. Die Dept kommunikeer nie individueel met voornemende huweliksbevestigers nie. Hoewel die proses eenvoudig is, duur dit gewoonlik etlike maande. ‘n Nuwe predikant of diensleraar moet dus so gou moontlik met die sinodale kantoor skakel om die proses te aktiveer. Hou ook by die keerdatum om die afspraak te maak en die toets af te lê soos hieronder uitgespel.
Die proses verloop as volg:
- Die aansoeker versoek die sinodale kantoor om namens hom/haar by Binnelandse Sake aansoek te doen. Verskaf die volgende inligting: volle name en van; noemnaam; ID-nr; kopie van ID (albei kante); woonadres; posadres; selfoonnr; e-pos; die gemeente waarin bevestig en die datum van bevestiging.
- Die sinodale kantoor rig die aansoek aan die Nasionale Kantoor van Binnelandse Sake.
- Binnelandse Sake registreer die aansoek, en besorg die volgende aan die sinodale kantoor: ‘n handleiding wat die applikant moet bestudeer, vergesel van ‘n verwysingsnommer en die besonderhede van die kantoor van Binnelandse Sake waar die predikant / diensleraar die toelatingseksamen moet gaan aflê. Daar is ook ‘n keerdatum vir die aflê van die toets.
- Die sinodale kantoor besorg die handleiding en korrespondensie aan die aansoeker.
- Die predikant / diensleraar moet self met die aangewese kantoor van Binnelandse Sake in verbinding tree om die voorgeskrewe skriftelike toets af te lê. Die toets moet binne ses maande vanaf die datum op Binnelandse Sake se skrywe afgelê word. Die slaagsyfer is 75%.
- Indien die applikant die toets slaag, reik Binnelandse Sake die magtiging om as huweliksbevestiger op te tree aan die sinodale kantoor uit, wat dit dan weer aan die nuut-aangestelde huweliksbevestiger stuur. Die huweliksbevestiger word ook aan ‘n spesifieke, plaaslike kantoor van Binnelandse Sake toegewys waar huweliksregistrasies voortaan plaasvind.
Huweliksregister
Die huweliksbevestiger reël met die spesifieke kantoor van Binnelandse Sake om die nodige registers en ander dokumente te bekom.
Adresverandering van huweliksbevestigers
Wanneer ‘n huweliksbevestiger van adres verander, word die adresverandering via die betrokke sinodale kantoor met Binnelandse Sake opgeneem. Waar huweliksbevestigers van standplaas verander, sluit die adresverandering die aanwysing van ‘n nuwe streekkantoor in waarmee die huweliksbevestiger skakel.
Hierdie proses verloop aan die hand van korrespondensie tussen die sinodale kantoor en die nasionale kantoor van Binnelandse Sake. Die sinodale kantoor hou die predikant / diensleraar deurentyd ingelig.
As deel van hierdie proses, reël Binnelandse Sake self vir die oorplasing van die huweliksbevestiger se lêer.