Skip to main content

Hoe lyk gemeentes wat floreer en gereed is om uitdagings van die toekoms te ontvang?

Hoe lyk gemeentes wat gereed is om teen die agtergrond van die onsekere toekoms te floreer en te bly floreer?

Die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode het ‘n steekproef by ‘n aantal gemeentes gedoen om te bepaal waarom hierdie gemeentes floreer. Die Taakspan sê:

Leraars en gemeentes word voortdurend uitgedaag om sin te maak van hul roeping en wat dit beteken om “kerk te wees” vandag; bewus van nuwe (en unieke) uitdagings en tendense wat posvat in ons gemeentes en gemeenskappe, ons land en in die wêreld.

Raakpunte

Wanneer hierdie gemeentes hul verhale vertel, is daar die volgende raakpunte. Al vyf gemeentes:

  • …  beklemtoon die belangrike rol wat gemeenteleiers speel in ‘n gemeente.
  • … het doelbewus nagedink oor hulle roeping: op ‘n retraite gegaan, ‘n strategiese sessie of droomvergadering gehou, hulself afgesonder en/of met ‘n teks oordink.
  • … het besef dat vernuwing, verandering, en/of aanpassing nodig is, selfs onafwendbaar is (Jy kan nie verandering forseer nie, maar jy kan dit ook nie keer nie).
  • … het besluit om vas te hou aan hul gereformeerde identiteit, maar om dit op nuwe en innoverende maniere in te kleur en toe te pas in hul konteks.
  • … het belangrike (roepings)vrae gevra soos: Hoe bedien ons sinvol? Wat gee vir ons bestaansreg? Wat is die grootste nood in die gemeenskap? Hoe kan ons ‘n verskil maak? Wat moet verander in die gemeente?
  • … het teenkanting, terugslae, misverstande en/of kritiek beleef, en was eerlik oor die foute wat hul in die verlede gemaak het.
  • … bevestig die waarde van deursigtigheid en integriteit in sulke prosesse.
  • … het ‘n kort en kragtige visie of opsommende roepingsbeleid (Saam Jesus na Sy nuwe wêreld; Ons is hier om ‘n verskil te maak; Gered – Geseën – Gestuur; Oase van Jesusliefde).
  • … fokus sterk op plaaslike betrokkenheid en plaaslike netwerke.

Nog opmerkings

  • Al vyf narratiewe is stories van gemeentes wat groot kopskuiwe gemaak het in hul siening van lidmaattalle, finansies, fasiliteite, leierskap (en hiërargieë) en kerk-wees.
  • Al vyf narratiewe is getuienisse van waartoe gemeentes in staat is wanneer hulle nuut dink oor die kerk en die bediening.
  • Die gemeentes se stories bevestig dat interkulturele bediening en multi-talige eredienste moontlik is. 
  • Die stories beklemtoon opnuut die waarde van maatskaplike dienste.
  • Die verhale bevestig dat die NG kerk veerkragtig en aanpasbaar is, en sonder twyfel ‘n beduidende verskil in gemeenskappe kan maak.

 Hierdie is ‘n baie handige lys waardeur kerkrade kan werk. Hoe help dit jou gemeente?