Skip to main content

Drie opgeleide bedienaars in Tarkastad bevestig

Drie bedienaars wat hul opleiding suksesvol by die Hugenote Kollege voltooi het, is op 19 Februarie 2023 te Tarkstad deur dr André Oosthuizen bevestig. Vlnr staan André Oosthuizen, Cornette van Heerden, Thea Wait en Elorina du Plessis

“Bedienaars” is kerkraadslede wat vir spesifieke bedieningstake deur die Hugenote Kollege opgelei word, en dan deur kerkrade aangewend kan word om bv eredienste te lei of pastorale ondersteuning te lewer. Die deeltydse studie duur een jaar. Studente word deur ‘n plaaslike leraar as mentor begelei. ‘n Sertifikaat word by voltooiing van die opleiding aan elke bedienaar oorhandig. 

Bedienaars is ‘n besondere instrument om bedieningskapasiteit in gemeentes te verhoog, en kan ook dienste in plaaslike gemeentes lewer wat nie langer ‘n leraar kan bekostig nie. Dit is die vrug van die NG Kerk se nuwe opleidings- en ampsmodel wat in 2019 deur die Algemene Sinode goedgekeur is.

Die kleine Tarkastad-gemeente het op inisiatief van die tydelik-deeltydse leraar, dr André Oosthuizen, begin om drie bedienaars op te lei. Groot was die dankbaarheid toe hierdie drie bedienaars tydens die erediens op 19 Februarie 2023 as kerkraadslede in die rol van bedienaars bevestig is.

Wat presies is Bedienaars en hoe werk die sisteem? In die kort video hieronder verduidelik dr André du Toit, dekaan van Teologie by die Hugenote Kollege, aan die gemeente van Tarkastad hoe die sisteem werk: