Skip to main content

Author: MM

Kerke en gemeenskapsorganisasies vra Ramaphosa om in te gryp

Die Nelson Mandelabaai Burgerlike Koalisie, waarby die NG Kerk, verskeie ander kerke, asook sake- en gemeenskapsorganisasies inskakel, versoek pres Cyril Ramaphosa in ‘n skrywe vandeesweek om in te gryp by die verslegtende veiligheidsituasie in die Baai. 

Tradisioneel een van die veilige Metro’s beleef die Baai oor die afgelope tyd verslegtende veiligheid en sekuriteit vir inwoners. 

Die koalisie versoek pres. Ramaphosa om ‘n misdaadramptoestand in te stel en ‘n spesiale Taakmag vir veiligheid en sekuriteit aan te wys. Meer polisiebeamptes, meer visuele polisiëring en verbeterde beskikbaarheid van toerusting is nodig. Die Metropolisie moet ook versterk word.

Daar word verder gevra vir die versterking van die SAPD se taktiese responsvermoë, die uitruil van polisiebeamptes met beamptes wat nie met die stad bekend is nie en die ontplooiing van die Weermag.

Klik hier om die skrywe te lees.

Prof Janet Cherry aan kerkleiers: Hoe dien grond en geregtigheid ons land se ontwikkelingsbehoeftes?

Op watter kreatiewe wyses kan ons grond benut om die ontwikkelingsbehoeftes van die SA-samelewing te dien? Hoe kan ons ‘n geskiedenis van vervreemding van grond met die armoede en ongelykheid wat dit meegebring het, oorkom? Dit was van die vrae waaroor prof Janet Cherry van die Nelson Mandela Universiteit se Departement van Ontwikkelingstudies kerkleiers onlangs in Nelson Mandelabaai help dink het.

Cherry het ‘n lewenslange belangstelling in die geskiedenis van ekonomiese ontwikkeling van Nelson Mandelabaai.

Nee, sy dink nie Julius Malema se planne gaan werk nie. Individuele grondeienaarskap blyk egter elders in die wêreld ook nie die blink oplossing te wees nie. Daar is egter talle ander moontlikhede. Klik hier om na ‘n video-opname van haar voordrag te luister. Haar Powerpoint kan hier afgelaai word.

Lot van SA se kinders: Honger, wangevoed en sterwend (ook in welgestelde provinsies)

Byna 40% van jong kinders in Suid-Afrika is honger, sedert Covid-19 loop 500,000 meer die ernstige gevaar van wanvoeding, en die hoeveelheid kinders wat voor die ouderdom 5 sterf het dramaties toegeneem.

Hierdie data is vervat in die South African Early Childhood Review wat die status van kinders onder 6 jaar ondersoek en op 17 Julie 2024 bekendgestel is. Die verslag is ‘n gesamentlike onderneming van verskeie instansies, waaronder die Universiteit van Kaapstad, DataDrive2030, die Grow Great Campaign en Ilifa Labantwana.

Die data beklemtoon dat die lot van jong kinders in vele opsigte verswak het. Die verslag beskryf hoe meer kinders in armoede leef, nie voedselsekerheid ervaar nie en hoe wanvoeding – ook in die tradisioneel meer welvarende provinsies – sedert die pandemie toegeneem het.

Inperking het alle basiese dienste aan kinders benadeel. Terwyl primêre gesondheidsdienste herstel het, is daar steeds agterstande met geboorte-registrasies en dus toegang tot toelaes.

Voorlopige beramings van die Mediese Navorsingsraad toon dat 30 van elke 1,000 babas wat lewend gebore is in 2022 nie tot en met hul eerste verjaarsdag geleef het nie, terwyl die sterftekoers vir kinders onder 5 van 29 sterftes per 1,000 lewende geboortes in 2020 gestyg het tot 40 uit 1,000 in 2022. Die vordering wat voor die pandemie met kindersterftes behaal is, het sedert die pandemie ‘n kreeftegang gegaan. Hoewel die oorsake nie heeltemal uitgepluis is nie, dra armoede en wanvoeding wat ook toegeneem het beslis hiertoe by.

Vroeër was kinders in die landelike dele van die land meer blootgestel aan hongersnood en wanvoeding, maar nou kom hierdie verskynsel ook in die meer welvarende stedelike provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap voor.

Positiewe veranderinge is dat die Departement van Basiese Onderwys en die Nasionale Beplanningskommissie aktief data versamel wat strategiese response vergemaklik. Die Dept van Basiese Onderwys het in 2022 verantwoordelikheid vir vroeëkindontwikkeling (ECD) aanvaar. Toegang hiertoe is nou makliker vir die mees kwesbare kinders.

Klik hier om die opsommende media-vrystelling te lees. Klik hier om die hele verslag te lees.

Rol van gemeentes

Wanneer mens hierdie verslag lees, kom Jesus se gelykenis in Matteus 25 by jou op. Wat is die klein bietjie wat ons kan doen om diegene wat honger of alleen is by te staan? Die Oos-Kaapse Sinode het reeds verskeie opleidingsgeleenthede rondom gemeentes en vroeëkindontwikkeling aangebied. Sikunye is ‘n organisasie met talle praktiese hulpbronne – besoek gerus hulle webblad.

Invloedryke Christianity Today se boek-toekennings vir die jaar

Die invloedryke evangeliese tydskrif Christianity Today se jaarlikse toekennings vir uitstekende publikasies is altyd ‘n bron van goeie leesstof. Dit bly waar van die toekennings vir 2024.

Die toekennings word in verskillende kategorieë gedoen. Die algehele wenner is ‘n boek wat aandui hoe die Bybel moderne kultuur uitlê.  Tim Keller skryf in dié publikasie, Biblical Critical Theory: How the Bible’s Unfolding Story Makes Sense of Modern Life and Culture, se voorwoord “a good theory make[s] visible the deep structures of a culture in order to expose and change them.”

Christopher Watkins, die outeur, beklemtoon:

Scripture does this better than anything else. Other critical theories—derived from deep analyses of race, gender, psychology, language, and law—might apply useful lenses to reality. But all are clouded or cracked to some degree, requiring a higher wisdom and a truer story to polish off the smudges and patch together the broken shards. God’s Word, in this sense, does more than explain God to the world. In unsurpassed fashion, it explains the world to itself.

Die moeite werd om te lees.

Kyk gerus ook na die ander publikasies op die lys – klik hier.

𝗩𝗮𝗸𝗮𝘁𝘂𝗿𝗲 𝗟𝗲𝗿𝗮𝗮𝗿𝘀𝗽𝗼𝘀: 𝗡𝗚𝗞 𝗦𝘁𝗲𝘆𝗻𝘀𝗯𝘂𝗿𝗴

Aansoeke word ingewag vir die leraarspos by die NG gemeente van Steynsburg vir ‘n termyn van drie jaar. Sou omstandighede dit  toelaat, kan die termyn verleng word.

Steynsburg is in die Noordoos-Kaap geleë, tussen 70 en 120 km vanaf Cradock, Middelburg, Burgersdorp en Aliwal Noord. Die gemeente bestaan uit 97 belydende en 20 dooplidmate en vier in 2024 sy 150ste bestaansjaar.  Ons het ook ‘n tuiste vir bejaardes met sowat 60 inwoners van verskillende denominasies. 
Ons is ‘n stabiele landbougemeenskap, hoofsaaklik veeboerdery, maar danksy die Oranje-Visrivierskema ook besproeiingsboerdery. Die naaste goeie skole is te Cradock, Burgersdorp en Middelburg. Groot sentra soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Bloemfontein is 300 tot 350 km ver.

Slutingsdatum: 31 Januarie 2024. Lees die volle posbeskrywing.

Geloofsreis vir predikante in 2024 aangebied

Ds Gys van Schoor en sy vrou, Thea, (voorheen van Somerstrand- en Durbanville-gemeentes) van die Sentrum van Geloofsvorming (Greyton) het al meer as 300 predikante landswyd op die geloofsreis begelei.  Hulle is ook genooi om dit in 2024 vir predikante in Namibië aan te bid.


Van die onderwerpe waaraan daar aandag gegee word is:
-Die herontdekking van Jesus en sy Koninkryksevangelie.
-Is jou “doing” besig om jou “being” te verlam?
-Emosioneel gesonde spiritualiteit.
-Hoe ontwikkel jy ‘n langasem vir die bediening?
-Dissipelskap as geloofsvormende reis.
-Om met groter vryheid te leef.
-Hoe vind karaktertransformasie plaas?

Vele predikante vra hiervoor. Die lang gekoesterde ideaal word in 2024 werklikheid wanneer ds Gys van Schoor van die Sentrum vir geloofsvorming die geestelike reis vir predikante in die Oos-Kaap kom aanbied. Predikante word aangemoedig om in te skakel.

Predikante wat hierby ingeskakel het getuig met lof van die impak daarvan op hulle lewe.

Die reis duur oor drie jaar, met twee retraites per jaar. Teken solank die datums aan: Retraite 1: 18-21 Maart 2024 en Retraite 2, 21-24 Oktober 2024.

Die koste beloop R1,850 per retraite, maar daar is ‘n 50% subsidie beskikbaar vir predikante wat betyds inskakel.

Klik hier vir meer inligting, en voltooi die inskrywingsvorm as jy belangstel.

Wees ‘n gemeente wat die eerste 1,000 dae van lewe ondersteun

Geestelike leiers van verskeie kerke het vandeesweek Sikunye se praktiese werkswinkel bygewoon hoe om kinders en families gedurende die eerste 1,000 dae van lewe by te staan

Families met klein kindertjies, en die kinders self, het ondersteuning nodig. Die gesegde sê: “You need a village to raise a child”. Die plaaslike gemeente kan die gemeenskap wees wat klein kindertjies en hulle ouers en versorgers bystaan om suksesvol te groei en te floreer. Dit is veral tydens die eerste 1,000 dae van lewe (konsepsie tot twee jaar)  krities belangrik.

Richard Lundie van Sikunye het vandeesweek ‘n besondere werkswinkel in die Baai aangebied wat die belang van die eerste 1,000 dae en praktiese weë om kinders en families in hierdie tyd by te staan toelig.

Die Powerpoints van dag 1 en dag 2 is beskikbaar. Daar is meer hulpbronne en inligting oor komende kursusse, wat ook interaktief met Whatsapp-boodskappe angebied word by www.sikunye.org.za beskikbaar. 

“Lang tafel” vir versoeningsdag in die Baai

16 Desember.  Versoeningsdag. ’n #TydVirTafels in ons verdeelde land. ’n Tafel skep ’n ideale ruimte vir saamwees, stories vertel en gedeelde lewensstories.

Op Versoeningsdag laas jaar het ons in die food court van Baywest Mall bymekaar gekom en ’n klomp tafels teenmekaar geskuif om ’n langtafel te vorm. Oor pizzas en koeldrank het swart, wit en bruin stories met mekaar gedeel, ’n feestelike viering van ons diverse ervarings. 

Kom deel weer op Versoeningsdag in hierdie geleentheid deur ’n vriend van ’n ander kultuur te nooi om saam ’n pizza te breek en te kuier. Sien jou op Saterdag, 16 Desember om 11:30.

Noodtoestand rondom kindervoeding in die Oos-Kaap

Groot afwagting by kinders wat kos kom haal by Mama Julia se sopkombuis in Walmer, Gqeberha (Foto: Daily Maverick)

Tussen Augustus 2022 en September 2023 is 1,732 gevalle van ernstige akute wanvoeding by kinders in die Oos-Kaap diagnoseer, berig Estelle Ellis onlangs in Daily Maverick. Hiervan het 101 kinders gesterf, met ‘n bykomende 13 oorlede wat “slegs” met gemiddelde akute wanvoeding diagnoseer is.

Honger by kinders in die Oos-Kaap kwalifiseer as ‘n ramp en moet in terme van Rampwetgewing as sodanig verklaar word, sê die Menseregtekommissie (SAMR) in ‘n verslag wat op 9 November gepubliseer is. Dit sal ‘n meer gekoördineerde respons deur die provinsiale regering moontlik maak.

Sowat 25% van die provinsie se bevolking lei aan belemmerde groei, dit is kinders wat te klein vir hul ouderdom is (“stunted”).

Volgens dr Eileen Carter, Oos-Kaapse hoof van die SAMR, word die probleem onder-rapporteer. Dit is ‘n veel groter probleem as wat die syfers toon.

Lees die SAMR se volledige verslag. Die waarde daarvan lê in die data, maar ook in die wye reeks praktiese aanbevelings vir die bydrae wat verskeie rolspelers kan speel.

In ‘n onderhoud met Grens.Pos sê joernalis Estelle Ellis, self ‘n aktiewe kerklidmaat, daar is veel wat gemeentes kan doen. Veral betrokkenheid by vroeëkindontwikkeling is van deurslaggewende belang. Die gehalte van die eerste 1,000 dae van ‘n kind se lewe (sedert die moment van bevrugting) is bepalend vir die res van ‘n kind se lewe. (Leraars en lidmate kan gerus kom deelneem aan die werkswinkel oor vroeëkindontwikkeling van op 28 en 29 November by die sinodale kantoor plaasvind – die uitnodiging verskyn elders in Grens.Pos.)

Ellis noem ook die volgende:

  • Help ongeregistreerde kinders om ‘n identiteitskaart by Binnelandse Sake te kry – sodat hulle toegang tot die kindertoelaag kan kry.
  • Help agtergeblewe moeders om verklarings suksesvol af te lê sodat hulle kan kwalifiseer vir kindertoelae – daar is arm moeders wat nie kan lees of skryf of selfs toegang tot ‘n swart pen het nie. Ja, daar is mense wat só arm is.
  • Help moeders voedsel spaarsamig “rek” en voorberei
  • Promoveer tuinmaak, bv op die model van “Farming God’s Way” – ‘n kursus wat in die Baai ontwikkel is en reeds suksesvol aangewend word.
  • Druk op die plaaslike regering om regulasies op te hef wat die verspreiding van voedsel wat in winkels verval verbied. Kleinhandelaars raak maandeliks noodgedwonge van tonne voedsel ontslae wat heraangewend kon word – as dit nie deur munisipale regulasies verbied was nie.
  • Versterk bestaande sopkombuise om meer kinders te voed, en ook meer gereeld.

Hier is ‘n braakland vir gemeentelike bediening wat ‘n geweldige verskil in ons land kan maak. Wie het nou weer gesê: “In soverre julle dit aan een van hierdie geringstes gedoen het …?”

Jaarboek 2024 van die NG Kerk beskikbaar

Jaarboek 2024 bevat die sinodale, rings-, gemeente- en predikante-inligting van die NG Kerk, NG Kerk in Afrika, Reformed Church in Africa en familiekerke in die buiteland. Jaarboek van die NG Kerke verskaf al langer as 170 jaar belangrike inligting oor die NG Kerkfamilie aan predikante, kerkkantore en lidmate. Bybel-Media wil ook met hierdie publikasie gestalte gee aan sy leuse: Vennoot in geloof en bediening. Bestellings is nou oop! Jaarboeke is beskikbaar van Desember 2023. Klik hier vir die bestelvorm.