Die NG Kerk se roeping binne die konteks van korrupsie
Oor die afgelope jaar het die Algemene Sinodale Moderamen teologies besin oor die NG Kerk se openbare getuienis oor korrupsie in Suid-Afrika. In ons tyd waar korrupsie die waardigheid van mense aantas, lewens in gevaar stel, openbare vertroue ondermyn en die toekoms van gemeenskappe en ons land in geheel bedreig, kan die kerk nie afsydig staan nie.
Die kerk se betrokkenheid word nie deur politieke of ideologiese oorwegings bepaal nie, maar deur haar roeping om as teken, voorsmaak en instrument van God se geregtigheid en hoop in die wêreld te leef. Hiervan getuig ook ons Roepingsverklaring.
Korrupsie is nie bloot ‘n administratiewe of politieke probleem nie, maar ‘n diepgaande geestelike en morele krisis wat die waardigheid van mense, die vertroue in openbare instellings en die welstand van gemeenskappe ernstig aantas.
‘n Volledige verslag gee verder rekenskap van die NG Kerk se samewerking met ander kerke in die aanspreek van korrupsie. Dit sluit onder meer die kerk se deelname aan die ekumeniese Anti-Korrupsiekonferensie van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Julie 2025, die ondersteuning van die Anti-Korrupsieverklaring, medeondertekening daarvan saam met leierskap van die VGK in Mei vanjaar, asook deelname aan gesprekke met die regering oor sistemiese korrupsie, openbare aanspreeklikheid en die herstel van vertroue in staatsinstellings in.
Ten slotte gee die verslag praktiese riglyne aan gemeentes, ringe en sinodes om hierdie roeping deur verkondiging, geloofsvorming, verantwoordbare rentmeesterskap, pastorale begeleiding, diensbaarheid en voorbidding konkreet uit te leef. Ons vertrou dat hierdie dokument sinodes, ringe en gemeentes sal ondersteun in die uitleef van hul roeping.
Die verslag is hier beskikbaar.