Volgens die nuutste “State of South Africa’s Fathers”-verslag (Sosaf) wat vroeg in 2025 verskyn het, woon miljoene kinders in Suid-Afrika saam met mans wat nie hul biologiese pa’s is nie.
Die verslag, wat elke drie jaar gepubliseer word, wys dat slegs 35,6% van Suid-Afrikaanse kinders by hul eie pa’s woon. Daarteenoor woon ‘n groter groep – 40,3% – saam met ander mans soos ooms, stiefpa’s en oupas.
Die ou idee dat pa’s net broodwinners moet wees, werk nie meer nie. Tog het ons sienings oor mans se rolle nie aangepas nie. Die 2023 “State of the World’s Fathers”-opname het selfs gewys dat meer vroue (85,1%) as mans (79,8%) in Suid-Afrika sê hulle ondersteun hul kinders geldelik. In vandag se ekonomie moet mans meer by versorging betrokke raak, maar dit gebeur dikwels nie.
Wat veral opval, is dat daar nog nooit so min kinders by hul biologiese pa’s gewoon het nie, en ook nie so baie by ander mans nie. Maar hierdie ander mans is nie noodwendig almal betrokke by die daaglikse versorging van die kinders nie.
Hierdie situasie wys hoe belangrik “sosiale pa’s” word – mans wat kinders versorg, mentor en vir hulle as rolmodelle dien. Die verslag beklemtoon dat kinders baat vind by enige man wat omgee en help met hul ontwikkeling.
Dr. Wessel van den Berg van Equimundo, een van die skrywers van die verslag, sê: “Die belangrikste bevinding is hoe groot ‘n rol sosiale pa’s in kinders se lewens speel. Meer kinders woon by mans wat nie hul biologiese pa’s is nie as by hul eie pa’s, en hierdie tendens lyk of dit gaan aanhou. Dit verander hoe ons oor vaderskap dink – dit gaan nie net meer oor bloedverwantskap nie. Ons moet al die verskillende soorte vaderskap in Suid-Afrika erken en ondersteun.”
Jean-Marie Nkurunziza van Sonke Gender Justice voeg by dat betrokke pa’s ‘n groot verskil kan maak: “Mans moet weet dat pa’s en sosiale pa’s wat regtig betrokke is by kinders se versorging, ‘n groot positiewe invloed op kinders se ontwikkeling het. Dit is ook goed vir die mans self – hulle het beter verhoudings met hul maats, beter geestesgesondheid en meer emosionele stabiliteit. Die kinders doen beter op skool, het beter sosiale vaardighede en ervaar minder geweld en mishandeling. Betrokke vaderskap kan ou idees verander en ‘n beter toekoms vir ons kinders skep.”
Die Suid-Afrikaanse Sosiale Kohesie-indeks (SASCI) meet die welstand en samehorigheid van die samelewing. Die doel van die ondersoek is om sosiale kohesie in Suid-Afrika te evalueer en beter te verstaan hoe gemeenskappe saam funksioneer. Die studie word deur die Inclusive Society Institute (ISI) gedryf, met die oog op die bevordering van ‘n nierassige, nie-seksistiese en regverdige samelewing. Dit beklemtoon ook ekonomiese ontwikkeling en gelykheid.
Klik hier om die resultate van die ondersoek te lees.
Die resultate van die indeks toon dat Suid-Afrika steeds met uitdagings rondom sosiale samehorigheid sukkel. Daar is vordering in sekere areas, maar ongelykheid, sosiale verdeeldheid en ekonomiese uitsluiting bly groot struikelblokke. Die indeks meet faktore soos gemeenskapsvertroue, ekonomiese deelname, sosiale netwerke en politieke stabiliteit. Hoewel sommige gemeenskappe sterker bande toon, is daar steeds hoë vlakke van wantroue en segregasie tussen rasse- en ekonomiese groepe.
Hierdie kaart dui die vlakke van sosiale kohesie in die verskillende provinsies aan – ‘n hoër syfer dui groter kohesie aan
Die navorsing beklemtoon dat ‘n goed funksionerende demokrasie afhanklik is van stabiele en inklusiewe politieke strukture. Die studie dui ook aan dat Suid-Afrika se sukses onlosmaaklik verbind is aan globale veranderings en internasionale samewerking. Die ISI beveel aan dat regeringsbeleide en maatskaplike programme daarop moet fokus om ongelykheid te verminder en groter samewerking tussen verskillende gemeenskappe te bevorder.
Ten slotte, terwyl daar positiewe neigings in sekere gemeenskappe is, moet Suid-Afrika steeds beduidende stappe neem om sosiale kohesie te verbeter. Dit sluit in om ekonomiese geleenthede meer inklusief te maak en vertroue tussen verskillende groepe te herstel.
Lig word in hierdie artikel gewerp op die dikwels-verborge stryd van selfbesering onder jongmense
Tot een uit elke 10 tieners mag hulself beseer, dikwels in die geheim, waar hulle die letsels of bewyse van hul beserings wegsteek.
Met Tienerselfdood-voorkomingsweek wat nader kom, vestig Netcare Akeso die aandag op die dikwels-verborge stryd van selfbesering onder jongmense.
“Selfbesering is enige nie-selfmoord gedrag, waar iemand doelbewus en opsetlik skade of besering aan hul liggaam toedien, dikwels as ‘n manier om emosionele nood en pyn te hanteer sonder die bewuste voorneme van selfmoord,” sê Netcare Akeso se krisislyn-bestuurder, Megan Gonsalves.
Selfbesering kan vele vorms aanneem, insluitend sny, krap, krap aan rowe sodat dit nie genees nie, opsetlike kneusing veroorsaak, jouself met sigarette, vuurhoutjies, kerse of aanstekers brand, voorwerpe deur die liggaam steek, self-medikasie, die gebruik van gif of skadelike chemikalieë en die uittrek van hare.
“As dit nie aangespreek word nie, kan selfbesering die risiko van selfmoordgedagtes en -gedrag verhoog, dus moet ouers en versorgers bewus wees van die subtiele tekens wat op selfbesering kan dui, veral onder tieners wat in hierdie hoë-risiko ouderdomsgroep val,” sê sy.
Dit kan moeilik wees om te identifiseer of jou kind hulself beseer omdat die gedrag dikwels versteek word, alhoewel daar waarskuwingstekens kan wees.
Doen jou tiener die volgende:
Vermy aktiwiteite waar hul bene, arms of bolyf gesien kan word?
Dra klere wat hul bene en arms bedek, selfs in warm weer?
Wys tekens van pyn of trek weg wanneer hul arms, bene of bolyf aangeraak word?
Steek voorwerpe soos skeerlemmetjies of aanstekers weg?
Kan nie behoorlik verduidelik waar snye, brandwonde of beserings vandaan kom nie?
“Ander tekens van geestesgesondheidsprobleme wat ook kommerwekkend behoort te wees, sluit in veranderinge in die jongmens se eet- of slaappatrone, verlies aan belangstelling in dinge wat voorheen genotvol was, verhoogde risiko, riskante gedrag, dwelm- of alkoholgebruik, isolasie, aggressiewe gedrag, gemoedsveranderinge en gevoelens van skuld of waardeloosheid,” sê Gonsalves.
Dit kan moeilik wees om te verstaan hoekom ‘n jongmens hulself opsetlik sal beseer.
Selfbesering dien verskeie funksies vir die mense wat voel hulle moet hierdie gedrag beoefen, en die redes vir selfbesering verskil.
“Selfbesering kan dien as ‘n poging om moeilike emosies te reguleer, veral wanneer ‘n persoon nie voel hulle kan dit verbaal uitdruk nie, of om situasies buite hul beheer te hanteer en trauma, mishandeling of herinneringe aan trauma te verwerk.
“Vir sommige kan dit ‘n uitlaatklep vir stres en spanning wees, ‘n gevoel van veiligheid en beskerming bied, of selfs dien as ‘n vorm van selfstraf,” sê Gonsalves.
“Sny en ander vorms van opsetlike selfbesering kan ‘n afleiding van emosionele pyn deur fisiese pyn bied.
“Wat ook al die onderliggende oorsaak van die nood is, om nie daaroor te praat nie verhoog die druk totdat dit ondraaglik word vir die jongmens.
“Wanneer oorweldig deur emosies, mag ‘n jongmens hierdie gevoelens na binne rig, en hul eie liggaam gebruik om uit te druk wat hulle nie in woorde kan stel nie.
“In oomblikke van paniek mag hierdie daad voorkom as die enigste opsie, wat ‘n vlietende gevoel van verligting bied.
“Solank as wat die onderliggende redes vir die nood bly voortbestaan, saam met die las van hul selfbeserings-geheim wat dikwels lei tot gevoelens van skuld of skaamte, vererger dit emosionele lyding, wat lei tot verdere selfbesering.
“En dit is hoe die siklus voortgaan, wat uiteindelik ‘n gewoontelike uitlaatklep word wanneer die persoon oorweldig voel.”
Gonsalves sê studies dui daarop dat ongeveer 50% van tieners wat hulself beseer dit herhaaldelik doen, wat hul risiko vir groter fisiese skade met verloop van tyd verhoog.
“Gewoonlik is selfbeserings-wonde aanvanklik nie ernstig genoeg om steke of mediese aandag te vereis nie. Daarom gaan die impuls ongemerk en onbeheerd voort.
“Selfbeserings-gedrag kan vererger, met wonde wat uiteindelik kliniese ingryping vereis — dikwels is dit wat ander vir die eerste keer daarvan bewus maak.”
Om oor selfbesering te praat is een van die sekerste metodes van voorkoming, en die aanleer van gesonde hanteringsvaardighede vir die bestuur van moeilike emosies kan ‘n lang pad gaan om jou kind te beskerm.
“As jou kind hulself beseer, kan professionele geestesgesondheidsondersteuning help om die onderliggende kwessies wat tot die gedrag bydra, aan te spreek.”
“Tydens adolessensie is die brein steeds besig om te ontwikkel, en die rasionele deel — die prefrontale korteks — is nie ten volle ontwikkel tot ongeveer die ouderdom van 25 nie.
“Dit beteken tieners verwerk nie situasies soos volwassenes nie en reageer dikwels op grond van gevoelens eerder as deurdagte denke, ervaar emosies meer intens en maak soms impulsiewe keuses.
“Om dit te verstaan kan ouers help om gesprekke met meer geduld en empatie te benader, wat beter kommunikasie bevorder tydens hierdie kritieke ontwikkelingsjare.
“Deur ‘n ondersteunende omgewing te skep, oop gesprekke aan te moedig en gesonde besluitneming te modelleer, kan ouers hul tieners help om die vaardighede te ontwikkel wat nodig is om die volle spektrum van emosies te hanteer in hul oorgang na volwassenheid.”
As jy of iemand vir wie jy omgee met selfbesering of enige ander geestesgesondheidskwessie worstel, is Netcare Akeso gereed om jou te ondersteun.
Kontak die 24-uur krisislyn by 0861-435-787 vir vertroulike berading en advies oor beskikbare hulpopsies.
Die reeks vir die Week van Gebed 2025 fokus op Jesus se gebede. Dit is geskryf deur dr Clifford Heys. hy behandel diep en betekenisvolle temas en sluit die week af met die Ons Vader-gebed.
Ons is opgewonde oor hierdie reeks en vertrou dat dit, soos elke jaar, geestelike vrugte sal dra en van waarde sal wees vir gemeentes se jaarlikse Week van Gebed, waar hulle die jaar begin met bidure, eredienste, byeenkomste, en Bybelstudies. Elke preek sluit af met nadenke-vrae wat gebruik kan word deur selgroepe, gesinne, Kerkrade of individue.
Klik hier om die temas in Afrikaans of in Engels af te laai.
Die CMR-PE-gebou, wat trots op die hoek van Mountweg in Noordeinde staan, skyn as ‘n baken van hoop vir Gqeberha se inwoners.
‘n Luisterryke onthaal ter viering van die CMR Port Elizabeth se 80 jaar van diens in Gqeberha is op 15 Augustus 2024 gehou.
Gestig in September 1944 as die Christelik-Maatskaplike Raad onder die Nederduits Gereformeerde Kerk, het die organisasie onlangs 80 jaar van toegewyde diens gevier.
CMR-PE direkteur Magda von Solms het gesê die organisasie is gebore uit ‘n dringende behoefte om die geweldige armoede in Suid-Afrika destyds aan te spreek.
“Tagtig jaar later bly ons steeds relevant en takel ons vandag se samelewingsuitdagings soos misdaad, werkloosheid, verlies aan hoop en gesinsverbrokkeling,” het sy gesê.
“CMR is ‘n Christelik-gebaseerde organisasie en dit is ons droom om gesinslewe te verryk deur Christus se liefde in aksie te wees.”
Sy het gesê deur die mishandeling van kinders in gemeenskappe wêreldwyd te erken, fokus die organisasie – met sy 10 maatskaplike werkers en drie maatskaplike hulpwerkers – sy werk op die verskaffing van maatskaplike welsynsdienste aan gesinne wat in gevaar verkeer.
Staatmaker maatskaplike werkers van die CMR. Vlnr Jeanne Sherrer, Marena de Ridder, Estelle Alberts, Aletta van der Merwe en Petronel Posthumus
“[Dit is] ‘n poging om die eskalasie van kindermishandeling en -verwaarlosing te stuit en om volhoubare oplossings vir kinderbeskermimg en -sorg binne ons gemeenskappe te verskaf.
“Hierdie gemeenskappe sluit in die breër Gqeberha, dele van Kwazakhele, New Brighton, Bethelsdorp, Bloemendal en Algoa Park.”
Oor die afgelope jaar het CMR-PE 7,042 begunstigdes bereik deur hul voorkomings- en vroeë-intervensieprogramme vir kwesbare gesinne.
Daarbenewens is 335 kinders in beskermende sorg geplaas en byna 50 gesinne is herenig.
“Ons streef daarna om proaktief te wees deur ons impakvolle programme, waar ons kinders leer hoe om hulself te beskerm,” het Von Solms gesê.
“Geslagsgebaseerde geweld is ‘n hartverskeurende kwessie, en een van ons suksesverhale behels ‘n vrou wat, nadat sy ons werkswinkel bygewoon het, haar mishandelende huwelik verlaat het.
“Sy het later huis toe teruggekeer, en vir die eerste keer was haar man bereid om te luister.
“Hulle geniet nou al ‘n jaar van vrede.
“Daarbenewens het ons ‘n anti-boelie program. Ons leef in ‘n kwaai samelewing.
Magda von Solms, direkteur van die CMR, tydens die vieringe
“Skole vra ons om hierdie program in hul skole aan te bied. Ons leer hulle [kinders] om hul woede anders te hanteer.”
CMR maatskaplike werkers besoek hul satellietkantore op Maandae en Woensdae by Samuel Nongogo Laerskool in New Brighton, Dinsdae en Donderdae by die wyksraadslid se kantoor in Kwazakhele en op Woensdae in die noordelike gebiede by die Verenigde Kongregasionele Kerk Chatty.
Albert Geldenhuys het onlangs sy verhandeling ingedien oor die kerkgebou wat deur die argitek Wynand H. Louw geteken is. Die verhandeling bevat kosbare inligting oor kerkgeboue in die Oos-Kaap deur Louw ontwerp.
Die kerkgebou van PE Moedergemeente in 1917 gefotografeer, ontwerp deur die eerste Afrikaner wat as argitek gekwalifiseer het, Wynand Louw
Twee ikoniese kergeboue, PE-Moedergemeente (1909), neo-Goties in ontwerp, en Uitenhage Moedergemeente se tweede kerk (1927), ‘n Griekse kruisvormige kerk, is deur Louw ontwerp.
Geskiedenisliefhebbers sal dit geniet om meer te lees oor die man, wat erken word as die eerste Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat formele opleiding as argitek ontvang het. Hy het sy opleiding in London voltooi en in 1909 die kommissie ontvang om die planne vir die NG Kerk Port-Elizabeth se nuwe kerkgebou op te trek. Vir meer as 50 jaar kan ons sy spore deur ons kerklandskap volg.
Uitenhage Moedergemeente se Grieksvormige kruiskerk uit 1927, die grootste kerkgebou wat Wynand Louw ontwerp het (1350-1400 sitplekke)
Daar word gereken dat Louw en sy praktyk by by die bou, herstel of restourasie van ongeveer 160 kerklike geboue betrokke was. Dit sluit kerke en kerksale in.
Klik hier om Albert Geldenhuys se verhandeling gratis af te laai.
Kerkbode, die amptelike mondstuk van die NG Kerk, word gebruik om amptelike kennisgewings oor die skuif van predikante en diensleraars te plaas, asook sekere amptelike kennisgewings oor die verskillende kerkvergaderings (in hierdie geval ring, sinode of algemene sinode).
Die Direkteur Sinode van die Oos-Kaaplandse Sinodale Kantoor moet ook kennis ontvang.
Klik hier vir ‘n samevatting van die amptelike kennisgewings wat gemeentes en ringe aan Kerkbode en die Direkteur Sinode moet stuur by e-pos kerkbode@tydskrifte.co.za en e-pos sinode@ngkok.co.za.
Die herbenoeming van plekke in die Oos-Kaap is dikwels verwarrend. Is jy op pad Grahamstad of Makhanda toe, Fort Beaufort of KwaMaqoma? Dis ‘n goeie idee om die nuwe name aan te leer. Daarom het ons dit goed gedink om ‘n tabel met die nuwe name saam te stel – klik hier.
Die Nelson Mandelabaai Burgerlike Koalisie, waarby die NG Kerk, verskeie ander kerke, asook sake- en gemeenskapsorganisasies inskakel, versoek pres Cyril Ramaphosa in ‘n skrywe vandeesweek om in te gryp by die verslegtende veiligheidsituasie in die Baai.
Tradisioneel een van die veilige Metro’s beleef die Baai oor die afgelope tyd verslegtende veiligheid en sekuriteit vir inwoners.
Die koalisie versoek pres. Ramaphosa om ‘n misdaadramptoestand in te stel en ‘n spesiale Taakmag vir veiligheid en sekuriteit aan te wys. Meer polisiebeamptes, meer visuele polisiëring en verbeterde beskikbaarheid van toerusting is nodig. Die Metropolisie moet ook versterk word.
Daar word verder gevra vir die versterking van die SAPD se taktiese responsvermoë, die uitruil van polisiebeamptes met beamptes wat nie met die stad bekend is nie en die ontplooiing van die Weermag.
Op watter kreatiewe wyses kan ons grond benut om die ontwikkelingsbehoeftes van die SA-samelewing te dien? Hoe kan ons ‘n geskiedenis van vervreemding van grond met die armoede en ongelykheid wat dit meegebring het, oorkom? Dit was van die vrae waaroor prof Janet Cherry van die Nelson Mandela Universiteit se Departement van Ontwikkelingstudies kerkleiers onlangs in Nelson Mandelabaai help dink het.
Cherry het ‘n lewenslange belangstelling in die geskiedenis van ekonomiese ontwikkeling van Nelson Mandelabaai.
Nee, sy dink nie Julius Malema se planne gaan werk nie. Individuele grondeienaarskap blyk egter elders in die wêreld ook nie die blink oplossing te wees nie. Daar is egter talle ander moontlikhede. Klik hier om na ‘n video-opname van haar voordrag te luister. Haar Powerpoint kan hier afgelaai word.