Skip to main content

VBO: Global Leadership Summit op Jeffreysbaai

Jeffreysbaai-gemeente tree vanjaar as tuiste vir die global Leadership Summit op. 

Vanjaar se beraad voorsien in die behoeftes van beide bedienings- en leiers binne skole en organisasies wat dit een van die mees gebalanseerde en kragtigste geleenthede maak. Die dinamiese sprekers sal elke leier toerus, inspireer en laat groei om ‘n katalisator vir transformasie en verandering te word.


Kaartjies te koop om jou sitplek te verseker is op QUICKET beskikbaar: GLS 2023 – JBAY tickets
GLOBAL LEADERSHIP SUMMIT 2023
“LEAD WHERE YOU ARE”
10-11 November 2023
NG GEMEENTE JEFFREYSBAAI 
KOMPLEKS-KAMPUS

Loerie hou Nartjiefees – 30 September

Septembermaand is Nartjiefeestyd en op Saterdag, 30 September, hou ons weer Nartjiefees op die kerkgronde van N G Kerk Loerie. Dit is die DERTIGSTE keer dat hierdie gewilde gesinsfees aangebied word. Hierdie groot mylpaal maak Nartjiefees beslis een van die
oudste feeste in die Oos-Kaap en ons verwag weer ‘n rekord aantal mense by die fees.


Die kunstenaars wat vanjaar optree is Brendan Peyper (met voile orkes), Lianie May, Elvis Blue, Dillon Lerm en Chris en Elmari Brits. Ons gio dat hierdie musiek in almal se smaak sal val.

Benewens kunsmarkstalletjies (skilderye, juweliewersware, houtwerk, speelgoed, leerwerk, klere, dekor artikels, plante en vele meer) word daar heerlike kos vanuit die kosstalletjies verkoop. Kerrie en rys, hamburgers, sosaties, boereworsrolle, nagereg, pannekoek, gebak, biltong, droewors en kerrie vetkoeke en “slap chips” gaan almal se monde laat water. Nartjies, vrugte, groente en Tannie Joan se tuisgemaakte konfyt is altyd ‘n groot aantrekkingskrag. Die koffiewinkel in die saal bied keurige koek en tert wat saam met jou koffie of tee beskikbaar is.

Bogenoemde is net die begin. Lees die volledige aankondiging van hierdie gewilde fees ten bate van die gemeente Loerie se fondse.

Gemeentes uitgedaag om die oseane te help red

Dr Stacey Webb van die Sustainable Seas Trust het gemeentes en gemeenteleiers in ‘n kort voordrag uitgedaag om verantwoordelikheid vir God se skepping te aanvaar, spesifiek die oseane wat toenemend verstik in plastiek en ander besoedeling wat alles sy oorsprong op land het.

Die Sustainable Seas Trust is ‘n nie-regeringsorganisasie gebaseer in Nelson Mandelabaai wat deur voorligting en projekte individue, groepe en instansies in staat stel om ‘n verskil te maak. ‘n Goeie voorbeeld is Operation Clean Spot, wat só beskryf word:

Litter, pollution, and illegal dumping are all issues that plague South Africa, and Nelson Mandela Bay. Mismanaged waste has far-reaching, devastating impacts, with many unseen impacts on human and ecosystem health as well as on the economy.

Operation Clean Spot (OCS) aims to rid Nelson Mandela Bay of 90% of the mismanaged waste which currently litters the city. OCS hopes to do this by engaging all stakeholders (government, businesses, industry, schools, individuals and more) and encouraging them to take ownership of their “spot”.

By working together, OCS believes Nelson Mandela Bay can be transformed into a clean city and be the first African city to achieve Zero Plastics to the Seas of Africa.

Die projek kan natuurlik oral toegepas word. Daar is vyf stappe om jou kolletjie skoon te hou:

Besoek hierdie skakel vir meer inligting oor die skoonmaakprojek.

Klik hier om dr Stacey Webb se kort voordrag aan kerkleiers te sien.

Worcester-bomplanter keer sy lewe om, werk nou vir versoening en gemeenskapsopbou

Stefaans Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy om 24 Desember 1996 ‘n bom in Worcester se Shoprite geplant het. Vier mense sterf en baie is beseer. Stefaans vertel dat hy destyds kort na die ontploffing teleurgesteld was toe hy hoor dat so min mense dood en beseer is. Hy was deel van ‘n verregse groep, Israelvisie, en het geglo swart mense is die vyand.

Oorspronklik gevonnis tot 40 jaar gevangenisstraf, is Stefaans na 18 jaar in interaksie met die geaffekteerde gemeenskap op parool vrygelaat. Sy vernuwing het in die tronk plaasgevind, hoofsaaklik vanweë kontak met swart mense wie hy die eerste keer as mense leer ken het.

Vandag plant Stefaans groente in gemeenskapsprojekte in townships eerder as bomme. Twee boeke het reeds uit sy pen verskyn, Wit Wolf (waarin hy die storie van sy bevryding vertel) en Onbeskryflike genade waarin hy oor sy lewe en sy nuwe selfdefinisie as volgeling van Jesus Christus praat.

‘n Gespreksgroep in Gqeberha wat streef na gemeenskapsimpak en versoening het vandeesweek met hom gesels. Coetzee glo ons tyd vra vir versoenende harte en dienende hande.

Die versoeningsproses met die Worcester-gemeenskap en Stefaans se lewensverhaal is in die dokumentêr Black Christmas vertel – kyk dit hier. Jaco Strydom van Kerkbode het ook ‘n onderhoud met Stefaans gevoer – klik hier om daarna te luister.

Die verlore seun vannie Gaatjie deel sy getuienis in die Baai

Ds Ivor Swartz, ‘n diensleraar van die NG Kerk Oosterlig, se paadjie loop vanaf die Gaatjie (‘n arm woonbuurt in Grabouw) verby sy moord op sy geweldadige ouer broer, tyd in die tronk, sy bekering, ‘n worstelstryd met depressie, ‘n geseënde huwelik met Nadine en ‘n pragtige kleinding, Luther. Hy het op 27 Augustus sy lewensverhaal en getuienis in die Baai kom deel. Kyk na sy getuienis as deel van die erediens van Kraggakamma-gemeente. Hy begin praat by minuut 18:45 op hierdie opname van die erediens.

Swartz is die skrywer van twee boeke, Die Verlore Seun vannie Gaatjie, en Kies die lewe – leer dans in depressie. Hy praat graag met kinders en jongmense en leer hulle om voluit te leer lewe as dissipels van Jesus Christus. 

Ivor tree van 8-10 September by Nahoon-gemeente op (sien bekendstelling hieronder in Grens.Pos). Almal in Oos-Londen en omstreke kan gerus die geleentheid benut. Bring ook die jeug.

Leer meer oor inter-generasionele bediening – by ‘n kenner

Hierdie aanbieding word deur die Ring van Albanie gereël.

Plek: NG Gemeente Alexandria

Datum: Saterdag 16 September 2023

Tyd: 09:00-14:00

RSVP: 8 September 2023 (Ruan: 082 562 6451)


Tema: Familie en Jeugbediening – skuif aan ons grense?


Aanbieder: Anriëtte de Ridder (PSD Weskaapland: Familie en Jeugbediening)


Agtergrond: Anriëtte is een van die voorste navorsers en fasiliteerders wanneer dit by familie en Jeugbediening kom. Nie net het sy ontsaglik baie bedieningservaring nie, maar is ook deel van ‘n netwerk wat op die voorpunt van navorsing, tendense en idees is. 


Hoe dink ons nuut oor familie en jeug bediening in kontekste wat aanhoudend aan die verander is. Anriëtte gaan ons in ‘n praktiese werkswinkel begelei en fasiliteer om juis hierdie vraag sinvol te antwoord. 
Vir meer inligting, kontak Ruan Nieuwenhuizen by 082 562 6451 of ds.ruan@outlook.com 

Gesprek oor Inter-generasionele bediening

Sondag 17 September 2023
Intergenerasionele bediening gesprek
Plek: TBC (Port Elizabeth) 
Tyd: 15:00-17:00


Gesprekleier: Anriëtte de Ridder (PSD Weskaapland: Familie en Jeugbediening)
‘n Oop gesprek oor Familie en Jeugbediening wat spasie skep om idees, uitdagings en tendense te deel. Hierdie spasie skenk ons die geleentheid na mekaar te luister en by mekaar te leer. 
Vir meer inligting, kontak Ruan Nieuwenhuizen by 082 562 6451 of ds.ruan@outlook.com 
RSVP: 14 September 2023 (Ruan: 082 562 6451)

Trauma as Verwoester – riglyne vir die pastoraat

In hierdie kursus deur prof Wentzel Coetzer van die Noordwes-Universiteit (aanlyn aangebied op 15 Augustus 2023) fokus hy op die pastorale begeleidingsproses tot heling en herstel na traumatiese ervarings soos plaasmoorde, motorkapings, aanranding, verkragting, bankrowe, geweldsmisdaad, ens. Talle praktiese voorbeelde is bespreek. Kyk gerus daarna – klik hier.

Die aanlyn byeenkoms is deur meer as 140 persone bygewoon.

Gemeentes fokus op beskerming van ons kinders

Liturgie vir Sondag van Barmhartigheid – 27 Augustus 2023

Die laaste Sondag van Augustus fokus NG gemeentes op barmhartigheid. Franciskus het onlangs opgemerk dat “Genade die naam van ons God is”. Dié God wat van ons vra om nie te oordeel en te veroordeel nie, maar om te vergewe en lief te hê, en om dit oor en oor te doen.


Dit is die uitdaging waartoe ons elke dag geroep word. In ons gedagtes, deur wat ons sê en deur ons
optrede. Ons is geroep om lief te hê en medelydend te wees. Ons word geroep om deernis te hê en
bedagsaam te wees. Ons is geroep om barmhartig te wees, net soos ons Vader barmhartig is.

Vanjaar is die fokus op kinderbeskerming, ‘n taak waarby ons kerk hier in die Oos-Kaap ten nouste deur die Christelike Maatskaplike Raad betrokke is. Gemeentes kan gerus ‘n maatskaplike werker van die CMR of ‘n ander maatskaplike organisasies nooi om in die erediens ‘n kort inset oor kinderbeskerming te doen.

Ds Nioma Venter en ds Sean Esterhuizen het ‘n liturgie saamgestel wat gemeentes tydens die erediens op 27 Augustus 2023 kan gebruik. Klik hier om dit te besigtig  – AfrikaansEngels.

Impak van die pandemie op gemeentes van die NG Kerk

Prof Kobus Schoeman het tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen data van Kerkspieël gebruik om die impak van die pandemie op NG gemeentes toe te lig. Die jongste Kerkspieëlopname is in 2022 gemaak, wat ‘n eerste belangrike blik op die effek van Covid-19 maak..

Een van die gevolge is besliste finansiële druk op gemeentes. Schoeman het die tendens sedert 2010 uitgewys:

Dit is duidelik dat meer en meer gemeentes deur finansiële uitdagings in die gesig gestaar word.

Schoeman wys uit dat daar steeds gemeentes is wat groei, selfs dinamies groei, maar dat blote instandhouding steeds ‘n groot aantal se bestaan kenmerk. Hy toon ook dat bestendige gemeentes oorwegend ‘n missionale ingesteldheid in hul bediening handhaaf. 

Klik hier om Schoeman se volledige aanbieding af te laai.