Skip to main content

Lot van SA se kinders: Honger, wangevoed en sterwend (ook in welgestelde provinsies)

Byna 40% van jong kinders in Suid-Afrika is honger, sedert Covid-19 loop 500,000 meer die ernstige gevaar van wanvoeding, en die hoeveelheid kinders wat voor die ouderdom 5 sterf het dramaties toegeneem.

Hierdie data is vervat in die South African Early Childhood Review wat die status van kinders onder 6 jaar ondersoek en op 17 Julie 2024 bekendgestel is. Die verslag is ‘n gesamentlike onderneming van verskeie instansies, waaronder die Universiteit van Kaapstad, DataDrive2030, die Grow Great Campaign en Ilifa Labantwana.

Die data beklemtoon dat die lot van jong kinders in vele opsigte verswak het. Die verslag beskryf hoe meer kinders in armoede leef, nie voedselsekerheid ervaar nie en hoe wanvoeding – ook in die tradisioneel meer welvarende provinsies – sedert die pandemie toegeneem het.

Inperking het alle basiese dienste aan kinders benadeel. Terwyl primêre gesondheidsdienste herstel het, is daar steeds agterstande met geboorte-registrasies en dus toegang tot toelaes.

Voorlopige beramings van die Mediese Navorsingsraad toon dat 30 van elke 1,000 babas wat lewend gebore is in 2022 nie tot en met hul eerste verjaarsdag geleef het nie, terwyl die sterftekoers vir kinders onder 5 van 29 sterftes per 1,000 lewende geboortes in 2020 gestyg het tot 40 uit 1,000 in 2022. Die vordering wat voor die pandemie met kindersterftes behaal is, het sedert die pandemie ‘n kreeftegang gegaan. Hoewel die oorsake nie heeltemal uitgepluis is nie, dra armoede en wanvoeding wat ook toegeneem het beslis hiertoe by.

Vroeër was kinders in die landelike dele van die land meer blootgestel aan hongersnood en wanvoeding, maar nou kom hierdie verskynsel ook in die meer welvarende stedelike provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap voor.

Positiewe veranderinge is dat die Departement van Basiese Onderwys en die Nasionale Beplanningskommissie aktief data versamel wat strategiese response vergemaklik. Die Dept van Basiese Onderwys het in 2022 verantwoordelikheid vir vroeëkindontwikkeling (ECD) aanvaar. Toegang hiertoe is nou makliker vir die mees kwesbare kinders.

Klik hier om die opsommende media-vrystelling te lees. Klik hier om die hele verslag te lees.

Rol van gemeentes

Wanneer mens hierdie verslag lees, kom Jesus se gelykenis in Matteus 25 by jou op. Wat is die klein bietjie wat ons kan doen om diegene wat honger of alleen is by te staan? Die Oos-Kaapse Sinode het reeds verskeie opleidingsgeleenthede rondom gemeentes en vroeëkindontwikkeling aangebied. Sikunye is ‘n organisasie met talle praktiese hulpbronne – besoek gerus hulle webblad.