PE-Noord vier 90 jaar van genade met gebedstuin

PE-Noord se “Tuin van Herlewing”, gebou met herwinbare plastiekdoppies
Ds Micaela Wahl van PE-Noord-gemeente in die Baai vertel:
Soos Nehemia die droom gekry het om die Jerusalem se muur te herstel, so kry ons die droom om die tuin van NGK PE-Noord te herstel met ’n gebedstuin omdat ons fondasie op gebed gevestig is. Die doel van die gebedstuin is om af te sonder van die wêreld en natuurlik gaan mense deur verskillende seisoene van die lewe, daarom omskep ons vier spasies vir “Woestyntyd”, “Herlewing”, “Rou” en “Vrede”.
Ons eerste poging was om die woestyn tuin te bou met die doel om mense uit te nooi wat deur ’n moeilike tyd gaan. Op hierdie paadjie hoop ons dat mense die vrede van God sal ervaar tydens moeilike tye.
Ons tweede poging was die Tuin van Herlewing met die doel om weer vars en nuut te kyk soos God na die wêreld kyk. Hier kleur ons die paadjie in met herwinbare plastiek doppies om iets van God se uniekheid en andersheid te ontdek . In die bou proses het ons vir die eerste keer in Nehemia se skoene gestaan toe hy Jerusalem se stadsmure herstel. Dit was ’n opwindende projek met sy uitdagings, konflik en kritiese opinies, maar met geloof, hoop en ’n span wat volhard word die tuin van herlewing bewaarheid deur om vars en nuut na mense en hul omstandighede kyk.
Ons nooi almal uit vir ons 90ste verjaarsdag viering vanaf 17 November tot 19 November, om die tuin, in sy beginstadium te kom beleef.
Dankie, vir almal wat doppies vir die Tuin van Herlewing ingesamel het, asook die doppie span wat hul hande, knieë en rûe opgeoffer het. Ons waardeer julle opreg.
