Wanneer ‘n kletsbot hom as Jesus voordoen

Kunsmatige intelligensie (KI) kan deesdae meer doen as om inligting op te soek of tekste te skryf. Daar is selfs kletsbotte wat hulle as Jesus voordoen. Gebruikers kan vrae oor geloof en lewensprobleme stel en onmiddellik antwoorde ontvang wat klink asof Jesus self praat.
’n Verkennende studie, deur prof. Anné Verhoef van die Fakulteit Filosofie aan die Noordwes-Universiteit, oor vyf sulke kletsbotte vra wat hierdie ontwikkeling vir die kerk en gelowiges beteken. Die skrywer se kernbeswaar is dat die tegnologie hier nie bloot mense naboots nie, maar aanspraak maak op die identiteit en gesag van Jesus.
Die ondersoekte toepassings sluit onder meer AI Jesus, Virtual Jesus en Text with Jesus in. Sommige verduidelik op hul webblaaie dat hulle rekenaarprogramme is. In die gesprekke stel verskeie hulle egter sonder verdere verduideliking as Jesus Christus of die Seun van God voor. Só kan die onderskeid tussen ’n tegnologiese hulpmiddel en God se stem vervaag.
Die studie wys ook dat hierdie “Jesusse” nie almal dieselfde antwoord gee nie. Op die vraag of daar ’n hel is, antwoord drie reguit bevestigend. Die ander twee formuleer hul antwoorde versigtiger en beklemtoon God se liefde en genade. Dit laat ’n belangrike vraag ontstaan: Wie kies die bronne en geloofsopvattings waarop hierdie antwoorde berus?
Volgens die ondersoek is geen kerklike onderskrywing vir die vyf kletsbotte aangedui nie. Advertensies en betaalde intekeninge bring boonop geld in. Die skrywer waarsku dat winsbejag ontwikkelaars kan aanmoedig om antwoorde te bevorder wat gebruikers tevrede en aanlyn hou. Gewildheid kan dan swaarder weeg as verantwoordelike Bybeluitleg.
Die artikel erken ook moontlike voordele. KI kan inligting vinnig toeganklik maak, geloofsgesprekke stimuleer en aanvanklike ondersteuning bied wanneer ’n predikant of berader nie beskikbaar is nie. Sulke hulp vereis egter nie dat ’n program hom as Jesus voordoen nie.
Die gevare verdien ernstige aandag. Gebruikers kan mislei word, onnodige skuldgevoelens ontwikkel of emosioneel, finansieel en polities beïnvloed word. Wanneer ’n antwoord as God se eie woorde aangebied word, kan dit besonder moeilik wees om dit te bevraagteken.
Vir die kerk bring dit vrae oor die tweede gebod, geestelike gesag en menslike verhoudings na vore. Die ondersoek is voorlopig, maar nooi gemeentes om ernstig oor hierdie ontwikkeling te praat.
Uiteindelik herinner die artikel ons aan die waarde van mense wat teenwoordig is: iemand wat luister, saam bid, jou omstandighede ken en jou hand kan vashou. Die Christelike geloof getuig immers van Jesus wat mens geword het. Daardie liggaamlike teenwoordigheid en menslike aanraking kan geen kletsbot bied nie.