Verkiesing – 4 November 2026: Kom ons bid vir Suid-Afrika – 50 dae van gesamentlike voorbidding

Wat as gelowiges in dorpe en stede regoor Suid-Afrika in dieselfde tyd, met een hart, begin bid -vir ons land, ons gemeenskappe en die mense wat ons dien?
Die NG Kerk is genooi om deel te wees van ‘n interkerklike gebedsaksie. City Connect: 50 Gebedsdae nooi gemeentes, lidmate, gebedsgroepe, families en elke gelowige om saam op ’n 50-dae-gebedsreis te gaan ter voorbereiding op die 2026-plaaslike verkiesings. Die gebedsreis strek van 14 September tot 3 November 2026.
Die uitgangspunt is eenvoudig: wanneer ’n stad floreer, floreer sy mense. Daarom herinner Jeremia 29:7 ons: “Bevorderdie voorspoed van die stad… en bid tot die Here vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed virjulle. ”
Die 50-dae-gebedsgids neem ons elke dag op ’n gestruktureerde reis van Skrif, gebed en verklaring van dit waarin ons onwrikbaar gio. Ons bid vir bekering en geestelike ontwaking, vir hoop en vrede, vir kiesers en politieke leiers, vir die verkiesingsproses, en vir die welstand van ons munisipaliteite, wyke en gemeenskappe.
Dit is ’n geleentheid om ons gebede plaaslik te rig – om ons eie provinsie, munisipaliteit, wyk, gemeenskap, leiers en inwoners by die naam voor God te bring.
Ons nooi daarom elke gemeente uit om saam met haar lidmate aan die interkerklike City Connect gebedsreis deel te neem. Gebruik die gids tydens eredienste, in kleingroepe, by gebedsbyeenkomste en tydens persoonlike stiltetyd. Deel die daaglikse gebede met lidmate en moedig hulle aan om elke dag ’n paar minute opsy te sit om vir Suid-Afrika en die plek waar hulle woon, te bid.
Ons hoef nie almal op dieselfde plek te wees om saam te bid nie. Ons vorm juis ‘n gebedsketting – van stad tot dorp, van gemeente tot gemeente, van huis tot huis. Die visie is om Christengelowiges, kerke, bedieninge en gebedsgroepe rondom ’n gemeenskaplikegebedsdoel te verbind.
Gemeentes, kom bid saam. Lidmate, kom bid saam.
Laat ons ervaar wat gebeur wanneer die kerk saam kniel voor die Here van die here.
Laai die City Connect 50 Gebedsdae-gids af. deel dit met familie en vriende, en nooi jou gemeente om deel te neem, ‘n Engelse gebedsgids sal ook op die YouVersion-toepassing beskikbaarwees.