Burgersdorp-gemeente vra dringend hulp met koste van herstelwerk

Die koepel van die NG Kerk Burgersdorp se pragtige klassieke kerkgebou het in die hartjie van Covid-tyd aan die brand geslaan en ernstige skade aan die kerkgebou aangerig. Brandende materiaal het in die liturgiese ruim geland en verdere verwoesting aangerig. Die herstel beloop miljoene.
Burgersdorp het finansiële hulp met die herstelkoste nodig. Elke bydrae, hoe groot of klein, maak ‘n verskil.

Tot hul skok en afgryse moes die kerkraad na die brand uitvind dat die kerkgebou onderverseker was. ‘n Lang stryd het gevolg, omdat die versekeraar die kerk se waarde uitermate hoog gestel het. Uiteindelik is die vervangingswaarde meer realisties bepaal, maar bly die kerkgebou steeds onderverseker. Dit beteken dat die versekeraar slegs vir ‘n gedeelte van die herstelkoste instaan.
Hoewel die gemeente wel van ‘n korttermyn-konsultant gebruik gemaak het, rus die onus op die eienaar om die waarde van die eiendom korrek te bepaal. Dit is ‘n dure les, sê die kerkraad, en moedig ander gemeentes aan om dadelik na hul versekerde waardes te kyk.
Die gemeente het self fondse bymekaargemaak, maar staar steeds ‘n tekort van drie miljoen rand op die herstelwerk in die gesig.
In die lig hiervan neem hulle vrymoedigheid om ander gemeentes, ringe, sinodes en individuele donateurs te nader om ‘n bydrae te maak. Die kerkraad (skrywe) het ‘n spesiale bankrekening geopen waarin bydraes betaal kan word:
Ramp en Boufonds – NG Kerk Burgersdorp
FNB
Rekeningnommer: 6302 4501 876
Takkode 210554
Herstelwerk het reeds begin. die argitek is Anton Roodt, die kontrakteur Bert Griffioen van AJ Renovatum en die bourekenaar Martin Nel.
Die gemeente hou hul eredienste sedertdien in die naasliggende kerksaal.