Skip to main content

“Waarom ek nie langer ons gemeente wil toemaak nie, ek wil nou help bou!”

In hierdie bydrae vertel ouderling Hercules Fourie van De Duin-gemeente in Port Elizabeth hoe hy nuwe visie en energie vir die voortbestaan van die gemeente gevind het, danksy nuwe geloofspraktyke en ‘n Bybels-geïnspireerde manier van dink oor gemeente-wees. 

Vyf jaar gelede was NG Kerk De Duin amper op die einde van sy pad.  Die destydse dominee het gestel dat hy meer lidmate begrawe het as wat daar nog oor was.  Al die lidmate was ouer mense en geen jong gesinne het meer ingetrek nie, daar was ook nie ‘n skool binne die gemeente-grense nie en die gemeenskap het begin verengels.

Met die aftrede van ons dominee, het ek begin dink aan hoe die gemeente afgesluit moet word. (Gelukkig is die einde van ‘n gemeente nie die einde van die Koninkryk nie.)  Die funksionele kerkgebou sou seker deur ‘n Engelse gemeente benut kon word?  Elke gemeente het seker maar ‘n lewensiklus en by ons is die seker nou die einde van ‘n era? In ons stad staan verskeie kerkgeboue wat in fabrieke of store omskep is nadat die ou woonbuurtes in besigheidsareas omskep is.  Dit is net ‘n kwessie van tyd, het ek gedink.

Ons kry toe ‘n nuwe dominee.  So ‘n drie-jaar-kontrak-dominee wat na aftrede soms nog betrokke bly.  Ek was oortuig dat drie jaar juis ‘n goeie tyd is om die gemeente finaal te sluit en by ‘n buurgemeente te amalgameer.  Dit is nou byna vanselfsprekend.

Die nuwe dominee het egter ander planne gehad.  Hy was nie bereid om met ‘doodsbegeleiding’ die gemeente toe te maak nie. (Nota: Die kerkraad het ook die nuwe predikante aangestel met die spesifieke opdrag om die gemeente te hervitaliseer – Red.)

Die eerste ding wat my opgeval het was ‘n kern teks of grondteks, wat hy vir die gemeente gegee het uit Ps. 1:1-3:

“Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie. Maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.  Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”

Die ‘boom by die waterstroom’ het ons logo geword.

Daar het egter ook iets anders gebeur.  Ons geloofsgewoontes het verander (vernuwe?).  Ons het op ‘n ander manier begin werk. Ons Bybelstudie het verander na “Wandel in die Woord”.  My tipiese (Protestantse) analise en beredenering van die Bybel het verander na: “wat hoor ek…”  Miskien het ons geleer om meer te luister en minder te praat?  Ons luister na God, na mekaar en na die gemeenskap.

Dit het die gevolg gehad dat ons “geroep en gestuur” as ons nuwe slagspreuk aangeneem het.  Dit het die hele kultuur van die gemeente begin verander.

Ons het natuurlik ook op jeug en jong volwassenes begin konsentreer.

Ek kan self nie glo dat ek 5 jaar gelede gereed was om die gemeente toe te maak nie.  Maar daardie ou ‘kultuur’ in daardie gemeente was nie ‘in pas’ met die ‘nuwe vereistes’ nie.

In ‘n sekere sin het ons dus die ou kultuur toegemaak en ‘n nuwe kultuur begin.  Dit is presies wat gereformeerd beteken.  Om te vernuwe. (nie altyd maklik nie!!)

Ons is nog lank nie klaar nie.  Die verskil is dat ek nie meer die gemeente wil toemaak nie. Ek wil nou help bou.