Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer
Tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die Koinonia Sinode van die Kairosbeweging gedien. Dit lui as volg en word aangehaal:
Die ATR adviseer as volg:
- Alhoewel die skrywes en/of uitnodigings waarvan die ATR kennis geneem het, deurspek is met bekende kerkregtelike woorde en terme, kan hierdie byeenkoms niks meer wees as ‘n konferensie wat sake hanteer soos geadverteer.
- Terwyl terme soos “nasionale sinode”, “stigtingsvergaderings”, “amptelike vergadering” en “geloofsbriewe” onder andere gebruik word, kan daar tydens hierdie byeenkoms geen bindende besluite geneem word wat die NG Kerk raak nie.
- Die kerkorde maak voorsiening vir vier amptelike kerkvergaderings te wete kerkraad, ring, sinode en algemene sinode (Artikel 22, Kerkorde 2019). Slegs ‘n ring, ‘n sinode en die algemene sinode konstitueer aan die hand van geloofsbriewe van afgevaardigdes (Artikels 30.4, 33.4 en Reglement 4, Kerkorde 2019)
- Die ATR bevestig weereens dat lidmate, ampsdraers en gemeentes wat beswaard voel oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode gebruik behoort te maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied – kerklike middele soos revisie, hantering van kerklike geskille, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina.
- Die ATR wys verder daarop:
5.1 dat lidmate hulle lidmaatskap van ‘n NG gemeente beëindig deur middel van ‘n bedanking
5.2 dat ‘n gemeente kan uittree uit kerkverband (ring en sinode) met die gevolg dat lidmaatskap van die NG Kerk beëindig word wat ook ‘n invloed het op diesulke predikante se bevoegdheid en die gemeente se voortbestaan. Sulke prosesse word deur die ring en sinode hanteer, in ag genome bv. die “universitas”-beginsel (Nota: die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente)
5.3 Sinodes kan met ‘n konsensusbesluit uit die Algemene Sinode tree aan die hand van Artikel 37. - Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ‘n eie sinode of kerk tot stand sou kom:
6.1 Die voortbestaan van die oorspronklike gemeente (“universitas”-beginsel)
6.2 Verlies van lidmaatskap van die NG Kerk
6.3 Verlies van bevoegdheid en gevolglike beroepbaarheid van predikante
6.4 Die verlies van bates en eiendomme
6.5 Verlies aan die groter kerkverband met historiese verbintenisse.
Hierdie advies het gedien by die ASM-vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart 2023.