Skip to main content

Hoe lyk jou ring se dataprentjie – volgens Kerkspieël 2026

Kerkspieël 2026 verteenwoordig selfrapportering deur 67% NG gemeentes. Die data kan nou digitaal nagegaan word en afgebreek word na Ring en Sinode

Hoe verander gemeentes oor tyd? En hoe lyk die prentjie in jou eie ring, sinode of die kerkverband as geheel? Wat rapporteer gemeentes self? Die nuwe Kerkspieël-data van 2026 maak dit makliker om dié vrae te ondersoek. Die data is aanlyn beskikbaar.

Meer as 70% Oos-Kaaplandse gemeentes het die vraelys voltooi en landswyd gemiddeld 67% gemeentes. 

Die tabelle uit Bylaag 3 van die Gemeente-opname 2026 wys antwoorde per ring, saam met die syfers vir die sinode en die Algemene Sinode. Waar dieselfde vraag in 2018 en 2022 gevra is, kan jy die drie opnames langs mekaar vergelyk. Verskeie vrae kan ook op ’n kaart bekyk word, sodat jy gemeentes se antwoorde geografies kan verken.

Die syfers bied interessante aanknopingspunte. Gemeentes wat in 2026 geantwoord het, het gemiddeld 532 belydende lidmate gehad, teenoor 665 in 2018. Die gemiddelde erediensbywoning per Sondag het van 143 in 2022 tot 171 in 2026 gestyg, maar is steeds laer as die 219 in 2018. Sulke tendense help ons om goeie vrae te vra oor gemeentegroei, deelname en die verskille tussen gemeentes.

Die data vra egter dat ons versigtig vergelyk. Dit was nie elke keer dieselfde groep gemeentes wat geantwoord het nie. In die Ringsverslag kan jy die vergelyking beperk tot gemeentes wat aan al drie opnames deelgeneem het. Let ook op die getalle agter die persentasies: in ’n klein ring kan ’n enkele antwoord die uitslag sterk beïnvloed. Sommige antwoordopsies het boonop tussen opnames verander.

Gaan verken die tabelle vir jou ring of sinode, vergelyk die jare en kyk wat jou opval. Die data gee nie op sigself al die antwoorde nie, maar dit kan ’n goeie begin wees vir gesprek en nadenke oor die bediening in ons gemeentes.