Voorbereid op rampe: Laat jou gemeente by die kerk se nasionale netwerk inskakel

Hoe kan gemeentes voorbereid wees om effektief te help in ‘n ramp? Dink droogte, brand, vloed of konflik. In hierdie video gee ds Joe Janse van Rensburg riglyne en nooi gemeentes uit om by ‘n landwye kerklike netwerk in te skakel.
Wanneer ’n vloed of brand gesinne uit hul huise dwing, is die plaaslike gemeente dikwels reeds daar. Gemeentelede ken die omgewing en weet wie ekstra hulp nodig het. Ready SA help gemeentes om dié kennis en bereidwilligheid in gekoördineerde hulp te omskep.
Ready SA is ’n landwye Christelike netwerk vir rampgereedheid en -ondersteuning. Die Algemene Sinode van die NG Kerk is een van die stigterslede. Die netwerk bring kerke, gemeenskapsorganisasies en vrywilligers bymekaar, bied praktiese opleiding en help gemeentes om met munisipale rampbestuur saam te werk.
Jou gemeente kan begin deur ’n spanleier aan te wys en ’n klein span van vyf tot twaalf vrywilligers bymekaar te bring. Voor ’n ramp leer die span om plaaslike risiko’s te identifiseer en ’n eenvoudige noodplan op te stel. Tydens ’n ramp kan die span betroubare inligting deurgee en, waar moontlik, die kerksaal as ’n punt vir hulpverlening beskikbaar stel. Ná die ramp kan die gemeente pastorale ondersteuning bied en gesinne bystaan terwyl hulle hul lewens herbou.
Bring die uitnodiging na julle kerkraad of diensgroep. Kyk gerus saam na hierdie video waarin ds Joe Janse van Rensburg, Sinode Oos-Kaapland se verteenwoordiger by Ready SA, oorsigtelik verduidelik wat dit behels en praktiese inligting gee. Klik hier om die Powerpoint wat hy in sy aanbieding gebruik af te laai. Daar is ook ‘n organisasieprofiel van ReadySA wat die moeite werd is om te lees.
Registreer julle belangstelling by www.readysa.co.za of stuur ’n e-pos aan national@readysa.co.za. Ready SA bied ook volgens die organisasieprofiel Maandae om 10:00 ’n aanlyn inligtingsessie aan.