Worcester-bomplanter keer sy lewe om, werk nou vir versoening en gemeenskapsopbou
Stefaans Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy om 24 Desember 1996 ‘n bom in Worcester se Shoprite geplant het. Vier mense sterf en baie is beseer. Stefaans vertel dat hy destyds kort na die ontploffing teleurgesteld was toe hy hoor dat so min mense dood en beseer is. Hy was deel van ‘n verregse groep, Israelvisie, en het geglo swart mense is die vyand.
Oorspronklik gevonnis tot 40 jaar gevangenisstraf, is Stefaans na 18 jaar in interaksie met die geaffekteerde gemeenskap op parool vrygelaat. Sy vernuwing het in die tronk plaasgevind, hoofsaaklik vanweë kontak met swart mense wie hy die eerste keer as mense leer ken het.
Vandag plant Stefaans groente in gemeenskapsprojekte in townships eerder as bomme. Twee boeke het reeds uit sy pen verskyn, Wit Wolf (waarin hy die storie van sy bevryding vertel) en Onbeskryflike genade waarin hy oor sy lewe en sy nuwe selfdefinisie as volgeling van Jesus Christus praat.
‘n Gespreksgroep in Gqeberha wat streef na gemeenskapsimpak en versoening het vandeesweek met hom gesels. Coetzee glo ons tyd vra vir versoenende harte en dienende hande.
Die versoeningsproses met die Worcester-gemeenskap en Stefaans se lewensverhaal is in die dokumentêr Black Christmas vertel – kyk dit hier. Jaco Strydom van Kerkbode het ook ‘n onderhoud met Stefaans gevoer – klik hier om daarna te luister.