Skip to main content

Burgersdorp-gemeente vra dringend hulp met koste van herstelwerk

Die koepel van die NG Kerk Burgersdorp se pragtige klassieke kerkgebou het in die hartjie van Covid-tyd aan die brand geslaan en ernstige skade aan die kerkgebou aangerig. Brandende materiaal het in die liturgiese ruim geland en verdere verwoesting aangerig. Die herstel beloop miljoene.

Burgersdorp het finansiële hulp met die herstelkoste nodig. Elke bydrae, hoe groot of klein, maak ‘n verskil.

Tot hul skok en afgryse moes die kerkraad na die brand uitvind dat die kerkgebou onderverseker was. ‘n Lang stryd het gevolg, omdat die versekeraar die kerk se waarde uitermate hoog gestel het. Uiteindelik is die vervangingswaarde meer realisties bepaal, maar bly die kerkgebou steeds onderverseker. Dit beteken dat die versekeraar slegs vir ‘n gedeelte van die herstelkoste instaan.

Hoewel die gemeente wel van ‘n korttermyn-konsultant gebruik gemaak het, rus die onus op die eienaar om die waarde van die eiendom korrek te bepaal. Dit is ‘n dure les, sê die kerkraad, en moedig ander gemeentes aan om dadelik na hul versekerde waardes te kyk.

Die gemeente het self fondse bymekaargemaak, maar staar steeds ‘n tekort van drie miljoen rand op die herstelwerk in die gesig.

In die lig hiervan neem hulle vrymoedigheid om ander gemeentes, ringe, sinodes en individuele donateurs te nader om ‘n bydrae te maak. Die kerkraad (skrywe) het ‘n spesiale bankrekening geopen waarin bydraes betaal kan word:

Ramp en Boufonds – NG Kerk Burgersdorp

FNB

Rekeningnommer: 6302 4501 876

Takkode 210554

Herstelwerk het reeds begin. die argitek is Anton Roodt, die kontrakteur Bert Griffioen van AJ Renovatum en die bourekenaar Martin Nel.

Die gemeente hou hul eredienste sedertdien in die naasliggende kerksaal.

Anchor of Hope Community Development benodig hulp

Die voormalige PE-Sentraal gemeente, deesdae Anchor of Hope, wat sy fokus na die hele gemeenskap van die sentrale stadsgebied verskuif het, benodig dringend rekenaartoerusting vir die opleidingsprogramme van volwassenes wat nie oor vaardighede beskik nie.

Da Gillie Noeth van Anchor of Hope skryf:

Ons het dringend ‘n goeie data-projektor nodig in ons rekenaarkamer vir ons rekenaar opleiding.  ‘n Nuwe data projektor sal ongeveer R10 000 kos. Hierdie projektor kan bv help.

Verder is ons rekenaars vir die rekenaaropleiding ook baie oud en verskriklik stadig.  As ons ten minste net SSD hardeskywe (256GB) kan insit, sal dit ons al klaar baie help. Ons het ongeveer 10 van hierdie hardeskywe nodig – elk kos R500.

Hoe lyk dit? wie kan help? Kontak Gillie by gilliam@webafrica.org.za.

Groot Predikante-byeenkoms vir Junie 2023 beplan

Vanjaar word alle predikante in Oos-Kaapland genooi om drie dae saam by die Willows-konferensiesentrum (teen die see net buite die Baai) te kom spandeer, van 6-8 Junie 2023. 

Die doel van die byeenkoms, is:

  • Saam kuier, mekaar vier en mekaar leer ken
  • Bemoediging en geestelike inspirasie
  • Wat doen God rondom ons en met ons?

Teken asseblief hierdie datum nou reeds in jou dagboek aan. Reël met die kerkraad. Ringe word versoek om die reiskoste van leraars te dra.

Ons reël huisvesting by Willows vir leraars van buite die stad. Ons het ‘n afspraak met mekaar.

Hou jou e-pos dop vir meer inligting en ‘n skakel na die inskrywingsvorm

Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer

Tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die Koinonia Sinode van die Kairosbeweging gedien. Dit lui as volg en word aangehaal:

Die ATR adviseer as volg:

  1. Alhoewel die skrywes en/of uitnodigings waarvan die ATR kennis geneem het, deurspek is met bekende kerkregtelike woorde en terme, kan hierdie byeenkoms niks meer wees as ‘n konferensie wat sake hanteer soos geadverteer.
  2. Terwyl terme soos “nasionale sinode”, “stigtingsvergaderings”, “amptelike vergadering” en “geloofsbriewe” onder andere gebruik word, kan daar tydens hierdie byeenkoms geen bindende besluite geneem word wat die NG Kerk raak nie.
  3. Die kerkorde maak voorsiening vir vier amptelike kerkvergaderings te wete kerkraad, ring, sinode en algemene sinode (Artikel 22, Kerkorde 2019). Slegs ‘n ring, ‘n sinode en die algemene sinode konstitueer aan die hand van geloofsbriewe van afgevaardigdes (Artikels 30.4, 33.4 en Reglement 4, Kerkorde 2019)
  4. Die ATR bevestig weereens dat lidmate, ampsdraers en gemeentes wat beswaard voel oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode gebruik behoort te maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied – kerklike middele soos revisie, hantering van kerklike geskille, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina.
  5. Die ATR wys verder daarop:
    5.1 dat lidmate hulle lidmaatskap van ‘n NG gemeente beëindig deur middel van ‘n bedanking
    5.2 dat ‘n gemeente kan uittree uit kerkverband (ring en sinode) met die gevolg dat lidmaatskap van die NG Kerk beëindig word wat ook ‘n invloed het op diesulke predikante se bevoegdheid en die gemeente se voortbestaan. Sulke prosesse word deur die ring en sinode hanteer, in ag genome bv. die “universitas”-beginsel (Nota: die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente)
    5.3 Sinodes kan met ‘n konsensusbesluit uit die Algemene Sinode tree aan die hand van Artikel 37.
  6. Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ‘n eie sinode of kerk tot stand sou kom:
    6.1 Die voortbestaan van die oorspronklike gemeente (“universitas”-beginsel)
    6.2 Verlies van lidmaatskap van die NG Kerk
    6.3 Verlies van bevoegdheid en gevolglike beroepbaarheid van predikante
    6.4 Die verlies van bates en eiendomme
    6.5 Verlies aan die groter kerkverband met historiese verbintenisse.

Hierdie advies het gedien by die ASM-vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart 2023.

Pinksterreeks 2023 beskikbaar

Die Christelike Lektuurfonds (CLF) het die Pinksterreeks vir 2023 bekendgestel.

Die tema is “Hoop in Handelinge”. Handelinge is een van die mees indrukwekkende boeke in die Bybel – dit vertel die storie van die vroeë kerk. Daar is verhale van wonderdade, geloof wat mense inspireer, buitengewone wysheid, waagmoed en menselewens wat handomkeer verander het. Dít alles te danke aan die kragtige werking van die Heilige Gees – die Gees van die opgestane Christus wat self teenwoordig is en sy kerk op aarde vestig. Die reeks kyk – met “hoop” as lens – na sewe tekste uit Handelinge. Daar gaan gekyk word na elke teks se konteks en hoe dit vir ons vandag hoop gee. Hierdie Pinksterreeks is geskryf deur dr Pieter van Jaarsveld – voormalige moderator van die NG Kerk Vrystaat en emeritus leraar van Bloemfontein.

Laai die reeks af – Afrikaans | Engels

Materiaal vir Wêreldbiddag vir Vroue 2023

Ons nooi jou om saam met Christene in meer as 170 lande en streke wêreldwyd, op Vrydag, 3 Maart 2023 by jou plaaslike Gemeente in te skakel vir hierdie wonderlike gebedsgeleentheid.

Die tema van 2023 is: “Ek het van julle geloof gehoor” (Efesiërs 1:15-19). Dit spoor ons aan om ons geloof in Christus te hernu en te verinnig. Ons Hemelse Vader bemoedig en spoor ons aan: “Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.” (Efesiërs 1:15-16). Kom ons fokus en wy ons toe om God nie teleur te stel nie, maar om ons geloof te voed en mekaar te versterk.

Die program vir die diens is deur Taiwan, onder leiding van die Internasionale Komitee, saamgestel.

Uitbeelding van die Kunswerk

Die vroue sit in stil gebed by ‘n stroompie, terwyl hul opkyk na die donkerte. Ten spyte van die onbekende pad wat voorlê, weet hul dat hul verlossing in Christus lê.

Twee bedreigde spesies word uitgebeeld: die Mikado-fisant en die Swartwang-sysie.

Die groen gras en skoenlaper-orgideë staan uit teen die donker agtergrond. Die groen gras simboliseer die Taiwanese bevolking as eenvoudig, selfversekerd, sterk en onder God se sorg.

Kontakbesonderhede en bestelvorms

Rig e-pos aan die SA-kantoor by wwdpsa@gmail.com, of klik op die webblad op bestelvorms.