Skip to main content

Author: MM

Drie opgeleide bedienaars in Tarkastad bevestig

Drie bedienaars wat hul opleiding suksesvol by die Hugenote Kollege voltooi het, is op 19 Februarie 2023 te Tarkstad deur dr André Oosthuizen bevestig. Vlnr staan André Oosthuizen, Cornette van Heerden, Thea Wait en Elorina du Plessis

“Bedienaars” is kerkraadslede wat vir spesifieke bedieningstake deur die Hugenote Kollege opgelei word, en dan deur kerkrade aangewend kan word om bv eredienste te lei of pastorale ondersteuning te lewer. Die deeltydse studie duur een jaar. Studente word deur ‘n plaaslike leraar as mentor begelei. ‘n Sertifikaat word by voltooiing van die opleiding aan elke bedienaar oorhandig. 

Bedienaars is ‘n besondere instrument om bedieningskapasiteit in gemeentes te verhoog, en kan ook dienste in plaaslike gemeentes lewer wat nie langer ‘n leraar kan bekostig nie. Dit is die vrug van die NG Kerk se nuwe opleidings- en ampsmodel wat in 2019 deur die Algemene Sinode goedgekeur is.

Die kleine Tarkastad-gemeente het op inisiatief van die tydelik-deeltydse leraar, dr André Oosthuizen, begin om drie bedienaars op te lei. Groot was die dankbaarheid toe hierdie drie bedienaars tydens die erediens op 19 Februarie 2023 as kerkraadslede in die rol van bedienaars bevestig is.

Wat presies is Bedienaars en hoe werk die sisteem? In die kort video hieronder verduidelik dr André du Toit, dekaan van Teologie by die Hugenote Kollege, aan die gemeente van Tarkastad hoe die sisteem werk:

Die besondere verhaal van die Gariepdam

Die Gariepdam is ‘n bron van lewe op vele vlakke in die Oos-Kaap. Danksy die Ovistontonnel wat die dam met die Groot Visrivier verbind, word die landboupotensiaal van groot dele van die Oos-Kaapse Karoo verwesenlik. Water vloei ook na die Sondagsriviervallei, en daarvandaan – via die Nooitgedachtskema – na die droogtegeteisterde Nelson Mandelabaai. Sonder hierdie water sou dié metropool nou letterlik sonder water wees.

Die hidro-elektriese kragopwekkingseenheid dra boonop by tot die Oos-Kaapse kragnetwerk.

Waar kom hierdie dam, die grootste dam in Suid-Afrika, vandaan? Joernalis Juliette du Toit van Cradock vertel die besondere geskiedenis, wat selfs verbind kan word met die noodsaak om vertroue in die SA-ekonomie na Sharpeville te bevestig.

Sy neem ons ook op ‘n reis deur die damwal. Lees die artikel wat aanlyn by Daily Maverick verskyn het. 

Burgersdorp-gemeente vra dringend hulp met koste van herstelwerk

Die koepel van die NG Kerk Burgersdorp se pragtige klassieke kerkgebou het in die hartjie van Covid-tyd aan die brand geslaan en ernstige skade aan die kerkgebou aangerig. Brandende materiaal het in die liturgiese ruim geland en verdere verwoesting aangerig. Die herstel beloop miljoene.

Burgersdorp het finansiële hulp met die herstelkoste nodig. Elke bydrae, hoe groot of klein, maak ‘n verskil.

Tot hul skok en afgryse moes die kerkraad na die brand uitvind dat die kerkgebou onderverseker was. ‘n Lang stryd het gevolg, omdat die versekeraar die kerk se waarde uitermate hoog gestel het. Uiteindelik is die vervangingswaarde meer realisties bepaal, maar bly die kerkgebou steeds onderverseker. Dit beteken dat die versekeraar slegs vir ‘n gedeelte van die herstelkoste instaan.

Hoewel die gemeente wel van ‘n korttermyn-konsultant gebruik gemaak het, rus die onus op die eienaar om die waarde van die eiendom korrek te bepaal. Dit is ‘n dure les, sê die kerkraad, en moedig ander gemeentes aan om dadelik na hul versekerde waardes te kyk.

Die gemeente het self fondse bymekaargemaak, maar staar steeds ‘n tekort van drie miljoen rand op die herstelwerk in die gesig.

In die lig hiervan neem hulle vrymoedigheid om ander gemeentes, ringe, sinodes en individuele donateurs te nader om ‘n bydrae te maak. Die kerkraad (skrywe) het ‘n spesiale bankrekening geopen waarin bydraes betaal kan word:

Ramp en Boufonds – NG Kerk Burgersdorp

FNB

Rekeningnommer: 6302 4501 876

Takkode 210554

Herstelwerk het reeds begin. die argitek is Anton Roodt, die kontrakteur Bert Griffioen van AJ Renovatum en die bourekenaar Martin Nel.

Die gemeente hou hul eredienste sedertdien in die naasliggende kerksaal.

Anchor of Hope Community Development benodig hulp

Die voormalige PE-Sentraal gemeente, deesdae Anchor of Hope, wat sy fokus na die hele gemeenskap van die sentrale stadsgebied verskuif het, benodig dringend rekenaartoerusting vir die opleidingsprogramme van volwassenes wat nie oor vaardighede beskik nie.

Da Gillie Noeth van Anchor of Hope skryf:

Ons het dringend ‘n goeie data-projektor nodig in ons rekenaarkamer vir ons rekenaar opleiding.  ‘n Nuwe data projektor sal ongeveer R10 000 kos. Hierdie projektor kan bv help.

Verder is ons rekenaars vir die rekenaaropleiding ook baie oud en verskriklik stadig.  As ons ten minste net SSD hardeskywe (256GB) kan insit, sal dit ons al klaar baie help. Ons het ongeveer 10 van hierdie hardeskywe nodig – elk kos R500.

Hoe lyk dit? wie kan help? Kontak Gillie by gilliam@webafrica.org.za.

Groot Predikante-byeenkoms vir Junie 2023 beplan

Vanjaar word alle predikante in Oos-Kaapland genooi om drie dae saam by die Willows-konferensiesentrum (teen die see net buite die Baai) te kom spandeer, van 6-8 Junie 2023. 

Die doel van die byeenkoms, is:

  • Saam kuier, mekaar vier en mekaar leer ken
  • Bemoediging en geestelike inspirasie
  • Wat doen God rondom ons en met ons?

Teken asseblief hierdie datum nou reeds in jou dagboek aan. Reël met die kerkraad. Ringe word versoek om die reiskoste van leraars te dra.

Ons reël huisvesting by Willows vir leraars van buite die stad. Ons het ‘n afspraak met mekaar.

Hou jou e-pos dop vir meer inligting en ‘n skakel na die inskrywingsvorm